Resepte (Afrikaans) – Page 2 – Recipes from South Africa

Category Archives for Resepte (Afrikaans)

Handtertjies recipe, wonderfully filled with jam

Handtertjies

Ek weet nie van julle nie, maar toe ek grootgeword het het my ma hierdie heerlike handtertjies op ‘n gereelde basis gemaak. Daar is darem maar nie veel dinge lekkerder as appelkooskonfyt nie. My mond water sommer net as ek net daaraan dink… Handtertjies is heerlik bros en sag aan die binnekant gevul met die heerlikste warm appelkooskonfyt…

Hier volg die resep. As jy in Engeland bly sal jy dalk arbeikonfyt verkies, maar ek hou baie meer van appelkooskonfyt.

Bestandele:
1/2 pond botter (margarine werk ook baie goed)
2 koppies meel
1 teelepel kremetart
‘n knippie sout
1/2 koppie yskoue water (net genoeg om die deeg te bind)

Metode:
1. Vryf die meel, sout en kremetart en botter met jou vingers in. (Dit werk makliker as jy die botter inrasper)
2. Meng die water en vou in met ‘n mes..
3. Bind die deeg, maak toe met ‘n koue lap en los in die yskas vir omtrent 30 minute.
4. Rol die deeg uit en gebruik ‘n ronde koekiedrukker om jou terjies mee uit te druk. Plaas ‘n 1/2 teelepel appelkooskonfyt in die middel van die tertjie. Vou die een kant van die tertjie oor die konfyt en druk op die anderkant van die deeg vas (in ‘n halfmaan).
5. Gebruik ‘n vurk om die buitekant vas te druk sodat die konfyt nie uitkook nie.
6. Smeer melk bo-op die tertjies en bak in ‘n voorverhitte oond teen 200 grade Celsius vir 15 – 20 minute tot lig bruin.

Eet en geniet 🙂

Eat Sum more shortbread resep

Hierdie is ‘n fantastiese resep en ‘n spesialiteit van die Skotte. Dit is een van Suid-Afrika se gunstelinge en die tuisgebakte weergawe volg hieronder. Maklik genoeg om te bak maar maak seker die shortbread brand nie. Dit is veronderstel om lekker bros te wees maar nie donker nie.

Bestandele:
4 koppies meel
1 koppie strooisuiker
2 koppies botter (margarine werk nie lekker nie)
1/4 teelepel sout

Metode:
1. Botter die meel en suiker saam.
2. Voeg die suiker en sout by en meng.
3. Rol die deeg sodat dit soos ‘n lang wors lyk.

Deeg gerol en gesny

4. Sny dit in sirkels en sit op ‘n bakplaat.
5. Sprinkel suiker bo-op en bak in ‘n voorverhitte oond van 350 grade Fahrenheit.
6. Bak vir 10 minute. As dit nie gaar is nie, bak ‘n verdere 10 minute.

Op bakplaat
Na dit gebak is

Hierdie is heerlike koekies en ons het dit altyd gebak toe ons nog klein was. Ek het gehou van die rol van die koekies, het gedink dit is so lekker!!! Laat ons weet hoe jou koekies smaak. Email vir ons fotos van die koekies!!!

pampoenkoekies with cinnamon sugar

Pampoenkoekies (en hulle is gluten vry)

Pampoenkoekies is ‘n wonderlike byvoegsel vir enige maaltyd. Die mees gewilde pampoen wat in Suid-Afrika hiervoor gebruik word is Herbert Squash. Toe ons egter in Engeland gebly het, was dit nie beskikbaar nie en moes ons eksperimenteer… Butternut het net so lekker gewerk en ek gebruik dit nou graag.

Dit is noodsaaklik dat die pampoen so droog as moontlik is voor jy dit gebruik, anders is dit te waterig en gaan die koekies nie lekker braai nie.

Bestandele:
2 koppies pampoen (1 medium grootte butternut squash)
4 eetlepels meel (meng wit of bruin rysmeel, tapioca en chick pea meel in gelyke hoeveelhede saam vir die gluten vrye weergawe)
2 teelepels gluten vrye bakpoeier
Sout
1 eier
Olie

# As jy nie ‘n celiac is nie kan jy gewone meel en bakpoeier gebruik

Metode:
1. Kook die pampoen in ‘n bietjie water tot sag (tussen 10 en 15 minute). Maak seker die pampoen is baie droog voor jy dit gebruik. Druk die pampoen fyn.
2. Voeg die meel, bakpoeier, sout en eier by en meng goed.
3. Gooi ‘n bietjie olie in ‘n pan en laat dit warm word. Drup lepelsvol van die mengsel in die pan en braai tot bruin aan albei kante.
4. Sprinkel kaneelsuiker bo-oor of gooi ‘n lekker stropie bo-oor.

Soet stroop:
1 eetlepel botter/margarine
3/4 koppie water
3/4 koppie melk
1 1/2 koppies suiker
1 eetlepel mielieblom

1. Laat die botter, water en suiker tot kookpunt kom.
2. Meng die mielieblom met ‘n bietjie water en gooi by. Laat dit vir omtrent 2 minute kook terwyl jy dit meng.
3. Gooi die warm stoop bo-oor die pampoenkoekies in plaas van die kaneelsuiker.

marshmallow tart

Malvalekkertert

Malvalekkers was nog altyd een van my gunstelinge…  Daarom was dit altyd so lekker as my ma ‘n malvalekkertert gemaak het.  Lekker bederf vir ons almal…




Bestandele:
1 blik (397g) kondensmelk
1/2 koppie suurlemoensap
12 rooi kersies in die helfte gesny
1 pakkie (125g) malvalekkers
1 koppie room
1 teelepel vanilla geursel
1 klein blikkie gesnipperde pynappels
1 pakkie tennis beskuitjies

Metode:
1.  Meng die kondensmelk en suurlemoensap en laat staan tot dit dikker word.
2.  Voeg die kersies en gesnyde malvalekkers hierby en meng.
3.  Klits die room en vanilla saam to styf en meng by.
4.  Pynappels word laaste bygevoeg.  Meng goed.
5.  Pak die tennisbeskuitjies in ‘n tert pan en skep die mengsel bo-op.
6.  Krummel 1 of 2 tennisbeskuitjies en sprinkel bo-oor die tert.
7.  Sit in die yskas en laat set.  Bedien koud na 2 ure.

Maak 2 ronde terte

cinnamon toast

Kaneelroosterbrood

Hierdie is seker die maklikste resep op aarde en jy kan dit eet vir ontbyt, ietsie om aan te peusel deur die loop van die dag of sommer vir aandete….

Ek is mal oor kaneelsuiker, so hierdie is vir my altyd ‘n wenner…  Maklik en vinnig om voorteberei…

– Rooster 2 snye brood in die oond aan die een kant.
– Botter die kant wat NIE grooster is nie.
– Meng kaneel en gewone wit suiker saam. Sprinkel op die botter en sit weer in die oond.
– Rooster tot die suiker kristaliseer.
– Eet en geniet terwyl nog lekker warm.

Wat is nou makliker?

Besoek ons facebook bladsy gerus!

koffiekoekies

Koffiekoekies

Bestandele:
2 koppies botter
2 koppies suiker
1 koppie fyn appelkooskonfyt
1 eetlepel koeksoda
1 eetlepel lekker sterk koffie
‘n bietjie kookwater om die koffie in op te los
1 1/2 teelepel vanilla ekstrak
8 koppies meel

Metode:
1. Room die botter en suiker saam en voeg dan die konfyt by. Meng goed.
2. Los die koeksoda op ‘n klein bietjie melk en meng by.
3. Los die koffie in kookwater op en voeg saam met die vanilla hierby.
4. Voeg die meel hierby en knie sommer met die hand.
5. Bak teen 180 grade celcius vir omtrent 10 minute op die onderste oondrak en dan ‘n verdere 10 minute op die boonste rak. Kyk dat die koekies nie brand nie.
6. Laat afkoel en plak twee twee op mekaar.

 Vulsel:
1 koppie suiker
1/2 koppie botter
1/3 koppie melk
1 eetlepel kits koffie
1 teelepel vanilla ekstrak

  1. Laat al die bestandele saam kook vir 5 minute.
  2. Verwyder van hitte en meng tot koud. Die vulsel sal dik word.

As hierdie resep te groot is, kan jy gerus net die helfte daarvan aanmaak. Ek bak sommer so af en toe net ‘n kwart van die resep, so moenie bang wees dat dit te veel gaan wees nie.

As jy eerder tuisgebakte koekies wil koop, probeer gerus die heerlike koekies, koeke, cup cakes, muffins, hertzoggies en karringmelkbeskuit van Ouma’s Cookies. Hulle is gebaseer in Vereeniging.   As jy vandag bestel sal dit vars gebak word en jy kan dit kom afhaal in Vereeniging, of ons kan dit vir jou stuur via courier in Suid Africa vir R100. Kontak ons vandag!

 

www.naturalchoices.co.za/cookies

 

melkkos, milk food directly translated

Melkkos

Melkkos is seker een van my gunsteling resepte.  Dit is lekker om te eet en baie maklik om te maak.  Al wat jy nodig het is melk, botter, meel en sout en daar gaan jy!  Vir my is die belangrikste egter die kaneerlsuiker.  Ek is MAL oor kaneelsuiker en eet dit oor enige kos.  Dit is heerlik, jy moet dit probeer!

Bestanddele:
2 eetlepels harde botter or margarine
1 koppie koekmeel
‘n knippie sout
2 1/2 koppies melk

Metode:

  1.  Vryf die botter by die meel en sout met jou vingerpunte in.
    2.  Gooi die melk in ‘n pan en bring tot kookpunt.
    3.  Voeg die meelmengsel bietjie vir bietjie by.  Meng met ‘n houtlepel.
    4.  Draai die hitte tot laag en laat kook vir omtrent 5 – 10 minute.  Maak seker jy roer dit baie goed.
    5.  Bedien die melkkos in ‘n bakkie en strooi kaneelsuiker bo-oor.  Meng en eet warm.

 

Bedien 2

plaatkoekies

Plaatkoekies

Plaatkoekies smaak heerlik, veral op ‘n koue dag! Hierdie is ‘n baie maklike resep en sal beslis ‘n baie groot gunsteling wees vir beide oud en jonk. Dit smaak op sy beste met marmite of goue stroop.

As jy lus voel om jouself te bederf kan jy gerus ‘n lepel room bo-op skep.

Bestanddele:
1 koppie melk
1 eier
2 eetlepels suiker
2 koppies meel
‘n Knippie sout
2 teelepels bakpoeier

Metode:
1.  Klits die melk en eier saam.
2.  Voeg die suiker hierby en meng baie goed .
3.  Sif die meel, sout en bakpoeier saam en meng by.
4.  Laat die mengsel staan en rus vir omtrent ‘n 1/2 uur.
5.  Skep lepelsvol in warm olie en braai aan albei kante. Draai die plaatkoekies om wanneer ligbabbels bo-op verskyn.
6.  Smeer ‘n bietjie botter bo-op saam met marmite of stroop.

Hierdie is regtig ‘n eenvoudige resep en smaak heerlik.

Probeer dit gerus!




 

 

 

 

 

Generaal hertzog koekies with apricot jam

Generaal Hertzog Koekies

Generaal Hertzog koekies is vernoem na die persoon wie se gunsteling hierdie koekies was. In die verlede is dit gewoonlik gedoen sodat almal weet wie hiervan gehou het!

Hier volg die resep vir die koekies wat ek nou die dag gebak het.  Dit smaak heerlik en is baie eenvoudig en vinnig om te bak.  As jy nog nooit voorheen hierdie resep probeer het nie, daag jouself uit en moenie bang wees nie 🙂

Bestanddele:
2 koppies meel
‘n Knippie sout
2 teelepels bakpoeier
1/2 koppie margarine
3 eiers (eierwitte-en gele geskei)
1 1/2 eetlepels suiker
Indien die deeg te slap is, meng 2 eetlepels melk hierby.

Metode:
1.  Sif die meel, sout en bakpoeier saam.  Vryf die margarine met jou vingerpunte hierby in.
2.  Voeg die gele by en laat staan vir omtrent 5 minute.
3.  Rol die deeg uit en sit in klein kolwyntjiepannetjies (jy kan ook groter pannetjies gebruik as jy wil).
4.  Skep ‘n klein lepeltjie appelkooskonfyt in die deeg.

Vulsel:
1.  Klits die eierwitte baie goed.
2.  Voeg ‘n 1/2 koppie suiker en 1 koppie klapper hierby en meng goed.
3.  Skep ‘n lepel vol bo-op die appelkooskonfyt.
4.  Bak in ‘n voor-verhitte oond teen 180°C vir 10-20 minute.

As jy eers een van hierdie koekies geproe het, sal dit baie moeilik wees om gou weer op te hou, so glo my, dit gaan nie te lank hou nie!




gluten free burger

Jogurttert

Vandag wil ek ‘n watertand lekker resep met julle deel.  Ons hou baie van ons wonderlike terte en glo my, min naweke en geen verjaarsdae gaan verby sonder ten minste een nie! Hierdie is een van my Tannie se spesialis resepte en sy maak die lekkerste tert wat ek nog gehad het.

Bestanddele:
1 pakkie tennisbeskuitjies
4 koppies plain jogurt (1 liter)
1 pakkie vanilla “instant” poeding
1 koppie room
1 blikkie kondensmelk (395gr)

Metode:
1.  Maak die beskuitjies fyn en meng met botter om ‘n kors te vorm.  Los in die yskas vir ‘n paar uur.
2.  Klits die res van die bestandele alles saam en skep in die kors.
3.  Laat staan in die yskas om te set en bedien koud.

Dit is ‘n lieflike resep en my tannie is die bo-baas bakster van hierdie ou gunsteling! Ek is nou sommer lus vir een. Die tert is baie soet, maar lekker…