Afrikaans, my taal – Recipes from South Africa

Category Archives for Afrikaans, my taal

my kiddies

Marakkas !!

Ai, nog ‘n pragtige Afrikaanse woord…. Daar is geen taal in die wêreld wat kan kers vashou by Afrikaans as dit kom by beskrywende woorde, uitdrukkings en manier van praat nie 🙂 Ek glimlag sommer klaar as ek net van die woorde deur my brein laat wandel… Dit is so mooi, so beskrywend, so akkuraat en pragtig.

Ek het net nou die aand een van my Haas Das se Nuuskas boekies vir my seuntjie gegee om te lees. Gaan hom ‘n ruk lank besig hou, maar hy lees so pragtig. Een van die stories se naam is “Hier kom groot marakkas!” ‘n Wonderlike beskrywing van wat gaan gebeur. Jy hoef nie eens te wonder nie, dit sê alles as jy net die opskrif lees.

Dit is presies hoe ek gevoel het nou die dag toe ek ‘n lemoenpoeding probeer bak het…. Ons huur ‘n nuwe huis en die oond het baie belowend en nuut gelyk, maar met kan nooit van die buitekant af oordeel nie… Ek het die poeding aangemaak en in die oong gesit en binne die eerste 5 minute het ek besef dat hier kom groot marakkas…..

Die poeding bo-op was sommer donker bruin, amper swart, en die poeding onder is nog in vloeistof vorm. Ai, en niks wil rys nie…. Die poeding bied nie eers ‘n poging aan om te rys nie, is net so plat soos toe ek dit ingesit het. Net so…. Geen vordering, geen bakproses… Net swart bo-op gebrand, rou aan die onderkant en plat soos ‘n pannekoek. Nou dit is wat mens noem marakkas…. GROOT PROBLEME….. So wonderlike akkurate beskrywing van hoe iet maklik verkeerd kan loop.

As jy opsoek is na die resep en wil sien hoe die poeding regtig MOET lyk, lees gerus meer by resep vir Lemoenpoeding

Vertel ons van marakkas wat plaasgevind het in jou kombuis. Deel gerus jou storie met ons 🙂 Jy is welkom on in AFrikaans of Engels te skryf. Maak gebruik van hierdie geleentheid om iets met die wêreld te deel 🙂




my kiddies

Klopdisselboom

As ek eerlik moet wees is daar nie VREESLIK baie wat ek kan onthou van wat ek op Laerskool geleer het nie… My brein absorbeer Inligting, dit weet ek beslis, maar wat bly en wat nie is nogal ‘n interessante konsep. Daar is ook baie Inligting in my brein wat ek weet, maar kan vir jou glad nie vertel wanneer of waar ek dit geleer het nie.

Daar is egter iets wat in my brein vasgesteek het toe ek dit gehoor het. Op Laerskool het ons die wonderlikste skoolhoof gehad. Meneer van Zyl was ‘n lieflike man. Hy het altyd so sag met die kinders gewerk, baie geduldig maar tog ook streng en ferm en baie goed gesproke. Hy het altyd die wonderlikste woorde gebruik en die mooiste suiwerste Afrikaans gepraat…

Ek onthou nog die oggend toe ons op die aantrevlak aangetree het in die oggend voor skool begin het. Ons het soos altyd geopen met gebed en Meneer van Zyl het met ons gesels. Hy het vir ons vertel dat dit klopdisselboom met hom gaan. ‘n Groot woord wat ek nie verstaan het nie, maar hy het vir ons mooi verduidelik.

As dit so goed met jou gaan dat dit nie beter kan gaan nie, dan gaan dit klopdisselboom. Dink net… so goed dat dit nie beter kan gaan nie. Hierdie woord het van daardie oomblik af in my kop vasgesteek en ja, as ek aan die woord dink dan glimlag ek sommer breed van oor tot oor.

Elke oggend as mense my vra hoe dit gaan dan sê ek goed dankie, en omtrent 2 sekondes na my antwoord dink ek, ek moes gesê het klopdisselboom  So volgende keer as iemand vir jou vra hoe gaan dit, bly eers stil vir 2 sekondes, glimlag en vertel dat dit gaan klopdisselboom dankie. Dan kan jy ook verduidelik wat dit beteken.

Hierdie is ‘n wonderlike mondvol woord wat net heerlik lekker oor jou tong sal rol. Hoe gaan dit vandag met jou? Met my gaan dit sommer klopdisselboom baie dankie!!!!!

my kiddies

Ondersteuningsraamwerk

Ons woord vir vandag is ondersteuningsraamwerk. Weereens ‘n groot woord wat jou tweekeer daarna sal laat kyk en wonder, het ek dit reg gelees? Ondersteuningsraamwerk is ‘n woord met 6 lettergrepe en klink na ‘n mondvol, maar dit rol tog ook so maklik en lekker oor jou tong as jy dit hardop sê…

As jy na die eerste twee lettergrepe kyk maak dit sommer sy eie woord – onder. Dit wys duidelik daarop dat iets van onderaf gebeur  Dit maak ook totaal en al sin, want ondersteuning kom gewoonlik van onder af. Maak jou laste ligter deur dit van die af te neem, of dra jou as jou voete nie meer kan nie.

Almal het ondersteuning nodig anders sal ons nooit heel anderkant uitkom nie. Ondersteuning kom uit alle oorde en word aanvaar omdat ons nie altyd als self kan dra nie. ‘n Ondersteuningsraamwerk is ‘n raamwerk wat in plek gestel kan word deur jouself. Jou onmiddellike familie insluitende jou man, vrou en kinders, jou uitgebreide familie insluitende jou ouers, ooms, tannies en neefs en dan ook jou uitgebreide vriendekring.

Mense maak vriende tydens verskeie tye van jou lewe. In die Laerskool is jy maatjies met die eerste kind wat net so verlore lyk en voel soos jy, waarmee jy kan assosieer. Julle bly dalk nie altyd maatjies nie, maar julle kan op mekaar steun in hierdie moeilike tyd van julle lewe.

Dan is daar Hoërskool, wat nou gemaak in die middel van vreemdelinge, en hierdie keer is dit nog moeiliker want kinders is groter, het hulle eie opinies en aanvaar nie sommer enige persoon in hulle klein, persoonlike spasie nie. Jy moet harder werk en assosiasie tydens hierdie fase hou soms langer…
Jy gaan deur jou lewe met nuwe vriende maak tydens elke belangrike pad wat jy moet stap onder verskillende omstandighede. Maar ware vriende is altyd daar vir jou, sal nooit opgee nie en jou altyd dra en ondersteun, maak nie saak waardeur jy gaan nie.

Maak seker jy bou vir jouself ‘n baie sterk en hegte ondersteuningsraamwerk gedurende jou lewe, anders gaan jy ‘n baie eensame persoon wees tydens jou latere jare.

My man en kinders is my anker, my rots op hierdie aarde. Hulle hou my positief en herinner my elke dag aan die belangrigheid van liefde en ondersteuning…

Vertel my meer van jou ervaringe, jou ondersteuningsraamwerk en hoe jy moeilike omstandighede hanteer.

my kiddies

Konsternasie

Die Afrikaanse taal is ‘n wonderlike uitdrukkingstaal… Daar is geen emosie wat jy nie kan beskryf met die een of ander ongelooflike beskrywende woord nie. Ek kan die heeldag boeke lees en nuwe woorde ontdek, nuwe uitdrukkings en gesegdes lees, en ek is darem al ‘n hele paar jaar op hierdie aarde van ons.

Een van hierdie pragtige woorde wat ek graag gebruik is een van daardie Liewe Heksie oomblikke waar sy sê “Hi ooeee, ek het ‘n bietjie vergeet van daardie groot woord”. Ek praat van konsternasie… n Pragtige woord wat lekker op jou oor val en oor jou tong rol, en dan begin jy wonder. Watse woord is dit? Wat kan dit tog beteken? Dit klink mooi maar ook aardig. Hoe gebruik ek hierdie woord wat ek mal is oor, maar ook terselfdetyd nie regtig verstaan nie?

As jy by iemand is wat die woord in ‘n sin gebruik sal jy sommer dadelik verstaan wat dit beteken. Jy het nie eers nodig om vir ‘n verduideliking te vra nie, jy sal sommer net verstaan en dit sal jou terselfdetyd laat glimlag

Ek het ‘n pragtige voorbeeld van hoe hierdie woord gebruik kan word. Ek bak en brou graag in die kombuis en gewoonlik neem ek aan ons het die regte bestanddele wat ek benodig vir ENIGE resep in die yskas of kaste. Maar wat soms gebeur is ek kry my Resepte van Suid-Afrika kookboek uit en slaan die boek op een van my gunsteling resepte oop en begin sommer alles te meng.

Eers die botter en suiker (soos meeste resepte mos maar begin), dan die eiers en die sout en as ek by die meel kom, is daar ‘n koppie meel te min. Hi ooee wat nou gemaak!!!! Wat ‘n KONSTERNASIE!!! Ek neem aan als is daar vir die resep en dan is dit nie. Maar die ergste is ek besef dit nie altyd van die begin af nie, maar kom dit soms eers agter nadat ek die meeste van die bestanddele reeds gemeng het. Kan jy nou glo. En dit is ‘n baie goeie manier om hierdie lieflike woord, konsternasie, te gebruik in ons alledaagse lewe.

As jy ooit so ‘n konsternasie oomblik beleef, laat my weet. Dit is heerlik om ander mense se gedagte te lees en te weet ek is nie die enigste persoon wat sulke dom goed aanvang nie…