Konsternasie – Recipes from South Africa
my kiddies

Konsternasie

Die Afrikaanse taal is ‘n wonderlike uitdrukkingstaal… Daar is geen emosie wat jy nie kan beskryf met die een of ander ongelooflike beskrywende woord nie. Ek kan die heeldag boeke lees en nuwe woorde ontdek, nuwe uitdrukkings en gesegdes lees, en ek is darem al ‘n hele paar jaar op hierdie aarde van ons.

Een van hierdie pragtige woorde wat ek graag gebruik is een van daardie Liewe Heksie oomblikke waar sy sê “Hi ooeee, ek het ‘n bietjie vergeet van daardie groot woord”. Ek praat van konsternasie… n Pragtige woord wat lekker op jou oor val en oor jou tong rol, en dan begin jy wonder. Watse woord is dit? Wat kan dit tog beteken? Dit klink mooi maar ook aardig. Hoe gebruik ek hierdie woord wat ek mal is oor, maar ook terselfdetyd nie regtig verstaan nie?

As jy by iemand is wat die woord in ‘n sin gebruik sal jy sommer dadelik verstaan wat dit beteken. Jy het nie eers nodig om vir ‘n verduideliking te vra nie, jy sal sommer net verstaan en dit sal jou terselfdetyd laat glimlag

Ek het ‘n pragtige voorbeeld van hoe hierdie woord gebruik kan word. Ek bak en brou graag in die kombuis en gewoonlik neem ek aan ons het die regte bestanddele wat ek benodig vir ENIGE resep in die yskas of kaste. Maar wat soms gebeur is ek kry my Resepte van Suid-Afrika kookboek uit en slaan die boek op een van my gunsteling resepte oop en begin sommer alles te meng.

Eers die botter en suiker (soos meeste resepte mos maar begin), dan die eiers en die sout en as ek by die meel kom, is daar ‘n koppie meel te min. Hi ooee wat nou gemaak!!!! Wat ‘n KONSTERNASIE!!! Ek neem aan als is daar vir die resep en dan is dit nie. Maar die ergste is ek besef dit nie altyd van die begin af nie, maar kom dit soms eers agter nadat ek die meeste van die bestanddele reeds gemeng het. Kan jy nou glo. En dit is ‘n baie goeie manier om hierdie lieflike woord, konsternasie, te gebruik in ons alledaagse lewe.

As jy ooit so ‘n konsternasie oomblik beleef, laat my weet. Dit is heerlik om ander mense se gedagte te lees en te weet ek is nie die enigste persoon wat sulke dom goed aanvang nie…

About the Author Lizel Salter

I was born in Vanderbijlpark, South Africa and grew up in Vereeniging. The first time I left home was in 2002 to go to England on a working holiday. Met my husband halfway around the world, got married in South Africa and now have 2 beautiful children. One boy and one girl... Started writing down recipes I grew up with when I was living in England and love sharing them with others. Buy my downloadable book and keep all the recipes together! https://recipesfromsouthafrica.com/download-book-in-english/