Klopdisselboom – Recipes from South Africa
my kiddies

Klopdisselboom

As ek eerlik moet wees is daar nie VREESLIK baie wat ek kan onthou van wat ek op Laerskool geleer het nie… My brein absorbeer Inligting, dit weet ek beslis, maar wat bly en wat nie is nogal ‘n interessante konsep. Daar is ook baie Inligting in my brein wat ek weet, maar kan vir jou glad nie vertel wanneer of waar ek dit geleer het nie.

Daar is egter iets wat in my brein vasgesteek het toe ek dit gehoor het. Op Laerskool het ons die wonderlikste skoolhoof gehad. Meneer van Zyl was ‘n lieflike man. Hy het altyd so sag met die kinders gewerk, baie geduldig maar tog ook streng en ferm en baie goed gesproke. Hy het altyd die wonderlikste woorde gebruik en die mooiste suiwerste Afrikaans gepraat…

Ek onthou nog die oggend toe ons op die aantrevlak aangetree het in die oggend voor skool begin het. Ons het soos altyd geopen met gebed en Meneer van Zyl het met ons gesels. Hy het vir ons vertel dat dit klopdisselboom met hom gaan. ‘n Groot woord wat ek nie verstaan het nie, maar hy het vir ons mooi verduidelik.

As dit so goed met jou gaan dat dit nie beter kan gaan nie, dan gaan dit klopdisselboom. Dink net… so goed dat dit nie beter kan gaan nie. Hierdie woord het van daardie oomblik af in my kop vasgesteek en ja, as ek aan die woord dink dan glimlag ek sommer breed van oor tot oor.

Elke oggend as mense my vra hoe dit gaan dan sê ek goed dankie, en omtrent 2 sekondes na my antwoord dink ek, ek moes gesê het klopdisselboom  So volgende keer as iemand vir jou vra hoe gaan dit, bly eers stil vir 2 sekondes, glimlag en vertel dat dit gaan klopdisselboom dankie. Dan kan jy ook verduidelik wat dit beteken.

Hierdie is ‘n wonderlike mondvol woord wat net heerlik lekker oor jou tong sal rol. Hoe gaan dit vandag met jou? Met my gaan dit sommer klopdisselboom baie dankie!!!!!

About the Author Lizel Salter

I was born in Vanderbijlpark, South Africa and grew up in Vereeniging. The first time I left home was in 2002 to go to England on a working holiday. Met my husband halfway around the world, got married in South Africa and now have 2 beautiful children. One boy and one girl... Started writing down recipes I grew up with when I was living in England and love sharing them with others. Buy my downloadable book and keep all the recipes together! https://recipesfromsouthafrica.com/download-book-in-english/