Gisteraand het ‘n dame met die naam Retha gevra of ek nie ‘n resep vir handtertjies met julle kan deel nie. Wel, hier is dit. Ek het ook die resep geskryf as antwoord op die vraag, maar ek het gedink dit is so lekker, ek kan dit net sowel die resep van die maand maak.
Hier is die resep. Onthou om appelkooskonfyt te gebruik, maar ek weet die mensie hier in Engeland hou mos van arbeikonfyt. Dit werk net so goed. Besluit net watter een jy verkies.
Bestandele:
1/2 lb botter (margarine is goed, maar botter gee ‘n lekkerder smaak)
2 koppies meel
1 teelepel kremetart
‘n knippie sout
1/2 koppie yskoue water (bietjie meer as jy voel die deeg wil nie lekker bind nie)
Metode:
1. Gebruik jou vingers en vryf die botter in by die meel, kremetart en sout. (Dit is makliker as jy die botter vries en dan sommer rasper!!)
2. Meng die water bietjies op ‘n slag by en meng in met ‘n mes.
3. Bind die deeg en bedek met ‘n koue lap. Laat die deeg in die yskas staan vir omtrent 30 minute.
4. Rol uit en gebruik ‘n koekiedrukker (so groot soos jy dit wil maak) en skep ‘n teelepeltjie appelkooskonfyt in die middel.
5. Vou die een helfte van die sirkel tot op die ander en druk saam met ‘n vurk.
6. Smeer melk bo-oor die halfmaantjie en bak in ‘n verhitte oond teen 200 grade celsius vir omtrent 15 – 20 minute, tot lig bruin.
Lekker eet!
Laat weet hoe dit uitkom en geniet die res van die aand
Â
Stuur gerus enige idees en vra as julle graag ‘n spesifieke resep wil maak. Ek sal my bes doen om vir julle die resep op te spoor as ek dit nie self ken nie.





Thu, Dec 11, 2008
4 Comments