Wat ‘n ongelooflike dag vir Suid-Afrika. Met die sing van die nasionale lied het ek met my hand op my hart gesit en my oë was gevul met trane. Wat ‘n ongelooflike emosionele aand was dit net nie. Ek was so bekommerd, het net gedink wat op aarde gaan ek voel as ons moet verloor?Ek het my man laasweek al ingelig dat ek sekerlik vir ‘n jaar sal huil as ons moet verloor. Hy was wonderlik. Alhoewel Martin ‘n Engelse ondersteuner is, het hy baie simpatie met my gevoelens gehad en het ons saam na die eindstryd gekyk.
My hart het 120 keer per minuut geklop nog voordat ons afgeskop het. In die tweede helfte toe Engeland amper daardie drie gehad het het my hart in keel gesit. Ek het nie geweet wat om te doen nie. Gelukkig was hy NET-NET uit gewees voor die drie gedruk is.
Ek is so trots op ons span, ek is so trots om ‘n Suid-Afrikaner te wees. Ek wens net hulle wil nou sien dat die beste spelers ons land MOET verteenwoordig, en nie net die met die regte velkleur nie. Gee aan almal die geleentheid om hulle bes te doen en laat die beste in die land ons op nasionale vlak verteenwoordig. Dit moet tog vir alles in die lewe geld of hoe?
Ek kan nie beskryf hoe ek gevoel het toe ons die wedstryd wen nie. Ek was so ongelooflik opgewonde en weereens was my oë vol trane. Hoe dra mens so ‘n oorweldigende hoeveelheid gevoelens in jou saam sonder om ‘n traan te stort?
Mooi gedaan John en die res van die manne. Wat ‘n ongelooflike oomblik vir ons land. Veral nadat elke persoon in die land Vrydag met groen en goud gaan werk het, skooltoe gegaan en selfs die parliment bygewoon het. As ‘n land het ons hande gevat en saamgestaan, wit, swart en bruin. Ons is almal een, ons is almal Suid-Afrikaaners. Ons moet saamstaan en ons nasie bou.
My sussie vertel my gister dat almal ook in groen en goud geklee was gister deur die loop van die dag. Al die vleis, bier, biltong en rugbytruie is uitverkoop en meer 80 000 truie is verkoop. Ek kon nie een kry nie :(
Ek sal een moet soek.
Go Bokke, julle het ons so trots gemaak, hou so aan en mag God ons hele land ryklik seën. Ons vir jou Suid-Afrika, wat dit ook al mag vra van ons as sy mense.




Leave a Reply