Weereens het ek lanklaas met julle gesels. Die tyd vlieg regtig baie vinnig verby. In die tussentyd het ek ten minste my navorsing gedoen oor al die soorte bokke wat in ons lieflike land aangetref word.
Ek sal met verloop van tyd vir julle hierdie bevindings van my op die blog skryf as julle geduldig sal wees!
Ek het ook besluit om beskuit te bak. Het ‘n lieflike resep van my ma wat ek gaan gebruik. Ek is nie mal oor boerebeskuit nie, want dit is te hard, in ag geneem dat ek nie tee of koffie drink nie, maar ek is versot op natbeskuit.
Maar ek het besluit om karringmelkbeskuit te bak, nog ‘n gunsteling van my wat jy net so kan eet sonder om dit eers te week in jou tee of koffie. Dit is beslis nie so hard soos gewone beskuit nie en smaak heerlik.
Dan kan jy ook semels of sade byvoeg, nes jy wil, en dit gee aan die beskuit nog ‘n dieper smaak.
Ek sal egter hou by die karringmelkbeskuit en as ek regtig baie moed het, sal ek vir ons natbeskuit bak. Daar is niks lekkerders as natbeskuit met heerlike botter daarop nie.
Ons het gister ‘n lieflike braai in ons agterplaas gehad. Dit was heerlik. Baie koud, maar windstil en ‘n perfekte dag vir ‘n heerlike braai. Ons het worsies, steak, skaaptjops, braaibroodjies en aartappelslaai gemaak en ons het dit gate uit geniet.
Dit laat my dink aan ons braais by die huis en ons albei het weer verlang na die lieflike aande om die braaivleisvuur…




Leave a Reply