Gistermiddag het die ongelooflike sterk wind kragonderbrekings veroorsaak in meer as net een plek in Engeland. Ons het vir omtrent 2 ure geen krag, verwarming, warm water of ‘n telefoon gehad nie. Alles was net eenvoudig af.
Dit was nogal lekker gewees. Ons het die hele sitkamer opgehelder met kerse en ons het ook die kersboom opgeslaan. Daar is pragtige goue en rooi balletjies waarmee ons die kersboom versier het. My tannie het die balletjies vir ons gekoop twee jaar gelede en dit lyk tog te pragtig.
Toe die krag weer aangegaan het, het ons die liggies op die boom gesit en dit pragtig verlig. Dit is darem te mooi!
Dit is weereens koud en winderig vanaand. Nog meer reën word voorspel vir vandag en môre en die wind gaan nogsteeds sterk waai vir ten minste nog die volgende paar dae.
Suid-Afrika het ten minste die laaste wedstryd wat hulle teen ‘n wêreld span gespeel het gewen. Dit was die laaste wedstryd vir die jaar en ten minste gaan dit goed met die rugby, of beter as wat dit was.
Ek het die uitslag op die radio gehoor gisteraand toe ek na die kerkdiens geluister het. Ek het ook na ‘n pragtige musiek program op RSG geluister Saterdagaand. Elke Saterdagaand 10 uur SA tyd is daar “country” musiek op die radio. Dit is te pragtig. Ons geniet dit vreeslik om net te sit en luister daarna.
As julle dit nog nooit geluister het nie, doen dit gerus. Dit is vreeslik ontspannend.




Leave a Reply