Jy kan nie glo hoe belangrik organisering is totdat jy ‘n hoop papiere optel en nie meer weet waar om dit te sit nie. Dit is presies hoe ek gisteraand gevoel het. Ons het so baie papiere wat los rondlê, dat ek besluit het dit is tyd om alles mooi weg te bêre. Ek is een van daardie persone wat daarvan hou dat alles reg is, alles het ‘n plek, maar soms is ek net nie gepla nie.
Het gisteraand orals na ons gatjiepons gesoek maar kon dit nie opspoor nie, so eerste ding vanoggend was om dit op te spoor. My man het dit gekry op ‘n plek waar ek gister gesoek het, maar gelukkig het hy dit raakgesien!! Ek het dit skoon mis gekyk. Met die gatjiepons in my hand, was ek gereed om te begin met die groot uitsorteer.
Al die rekeninge en dinge wat belangrik is, papiere en dies meer, het ek in 2 leêrs gesorteer. Alles is nou bymekaar en kan maklik opgespoor word as jy iets benodig. Daar is glad nie meer papiere wat rondlê nie en die leêrs is mooi weggepak in ‘n kas. Alles lyk nou so pragtig en georganiseerd, soos ek daarvan hou. Dalk het my administratiewe pos by die werk iets daarmee te doen, wie weet.
Is besig om ‘n heerlik hoender ete voor te berei saam met lekker pampoen. Behoort seker oor so 2 ure gereed te wees. Het die inhoud van ons yskas oorgepak in die nuwe een. Die oue is ‘n bietjie klaar met die wêreld, moeg en stukkend. Die nuwe yskas lyk so mooi en is groter as die oue. Genoeg plek vir al ons groente en vrugte.
Vandag is ‘n heerlike sonskyndag. Nie regtig te warm nie, maar die sonskyn is lekker warm. Solank as jy in die huis bly en in die sonnetjie sit, is dit te heerlik.
My man werk ‘n bietjie aan sy webwerwe en ek skryf sommer net lekker. Vandag is nog ‘n lekker rustige dag. Het vroeg vanoggend na die kerkdiens op die internet op RSG geluister. Sal weer vanmiddag luister teen so 18.00 UK se tyd. Dit is die hoogtepunt van my Sondag.
Lekker dag vir julle en mooi loop tot later…




Leave a Reply