Vir ‘n lang tyd het dit nie vir my enige verskil gemaak as iemand bly is dit is naweek nie. Maar vandag kan ek weer met hulle saamstem. Dit is heerlik om naweek te hou. Te lekker om te weet dat dit nie nodig sal wees om vroeg op te staan nie. Jy kan maak wat jy wil en jou nie bekommer oor werk nie.
Hierdie naweek beplan ek om net te rus en niks ernstigs te doen nie. Weet nog nie of ek ietsie wil bak nie, maar sal nog sien. By my werk het ek vandag met ‘n Engelse meisie en ‘n man oorspronklik van Jamaica gesels. Hulle wou weet of ek ook van patats hou. Ek sê toe dat ek baie lief is vir patats, maar nie die wat hulle hier verkoop nie.
Patats hier is ook rooi, maar as jy dit skil is dit geel, amper oranje. Dit is mos nie hoe patats lyk nie? Dit is ‘n witterige kleur en smaak heerlik, maar ek hou glad nie van hierdie patats nie. Ek mis patats baie, want dit is een van my gunsteling groente soorte, maar ek kan net nie hierdie patats koop en geniet nie. Smaak glad nie dieselfde nie!
Net nou die dag het ek nog ‘n verrassing gekry. Ek loop in die supermark rond en kyk na al die vrugte en wat sien ek toe op die rak, ‘n turksvy! Of dit is wat ek gedink het ek sien. Met nader inspeksie besef ek dit is glad nie ‘n turksvy nie, maar wel ‘n papaya (paw-paw vir ons Suid-Afrikaners)!!! Nee wat regtig. Ek het sommer uitgebars van die lag en moes my man vra wat dit is, net om seker te maak, en hy bevestig toe dat dit wel ‘n papaya is, net soos dit op die etiket geskrywe staan.
Die papayas hierso het ‘n donkerige groen skil en is dieselfde groote as ‘n turksvy. Ek jok nie vir julle nie. Net ‘n bietjie groter as ‘n avokado, en dit is al. Ek kon myself net nie sover kry om dit te koop en te probeer nie. As dit nie lyk soos wat dit moet nie, kan dit beslis ook nie smaak soos dit moet nie. Ek sal dit probeer wanneer ek genoeg moed bymekaargeskraap het. Maar nie nou nie.
Daar is baie sulke voorbeelde van groente en vrugte wat nie dieselfde lyk of smaak nie. Moeilik om te verduidelik hoekom. Ek wens ek het self geweet. Al wat ek wel weet, is dat ek al die Suid-Afrikaanse vrugte en groente mis hier in die verte.
Ek sit nou nog en dink aan daardie heerlike, sappige mango wat ons by die huis gehad het ‘n maand gelede. Dit was ongelooflik sag en sappig, groot genoeg vir 3 mense om te deel. Toe ons terugkom in Engeland was ons so lus vir ‘n mango dat ons twee gekoop het. Een om te eet en een om te gebruik in ons smoothie. Maar dit was ‘n groot terleurstelling gewees. Die mango was draderig en het ‘n snaakse nasmaak gehad. Weet nie mooi wat dit was nie maar die nasmaak was beslis baie sterk gewees.
Hoop julle geniet julle in-seisoen vrugte en groente aan daardie kant. Sien die druiwe seisoen is verby, want die druiwe wat nou hier ingevoer word is van ‘n ander Europese land en nie meer van Suid-Afrika nie. Nou is “butternut squash” in seisoen. Ek het net nou die dag twee ingevoer vanuit Suid-Afrika gekoop. Te heerlik.
Geniet die naweek en praat weer later…




Leave a Reply