Nageregte en peuselhappies . . .

Thu, Feb 16, 2006

Heerlike kos

Ontbyt, nageregte, peuselhappies en drankies is alles baie belangrike komponente in die Suid-Afrikaner se lewe. Ontbyt wissel tussen mieliepap en heerlike vars beskuit. Beskuit is basies deeg gebak in die oond, daarna word dit in stukkies gebreek en dan weer terug in die oond geplaas om uit te droog. Jy kan ook nat beskuit eet eerder as om dit uit te droog. My gunsteling! Die perfekte ontbyt vir enige persoon op die plaas is lekker vars gebakte beskuit geweek in ‘n sterk koppie koffie, vroeg in die oggend. Indien jy tee meer geniet as koffie, probeer gerus die plaaslike rooibostee.

Gedurende die loop van die oggend kan jy aan biltong of droëwors loop en kou. Wanneer jy ‘n krieket of rugby wedstryd kyk is dit natuurlik die eregaste. Nadat jy die biltong geniet het is dit weer tyd vir ‘n lekker koppie koffie, bedien met warm piesang-, gemmer- of mieliebrood met botter. Mielies is Afrika se stapelvoedsel en word geniet as ontbyt, brood, skyfies en nog baie meer!

Teen die middag is dit tyd vir jou hoofmaaltyd. Hierna volg die beste deel, die nagereg. Meeste poedings word gebak en opgedien met vla, roomys of ‘n spesiale sous. Malvapoeding is een van die ou gunstelinge, ‘n heerlike soet appelkoos nagereg met ‘n warm soet sous. Cottagepoeding is net so gewild, ‘n heerlike koekpoeding bedien met ‘n warm witwyn-sous.

Indien jy eerder koue nageregte verkies, kan jy ‘n heerlike verfrissende vars vrugteslaai met roomys geniet. Alle vrugte word in die land self gegroei en volgens seisoen bedien. Die gewildste vrugte sluit in druiwe, appels, naartjies, perskes, appelkose, mangos, waatlemoene en nog baie ander, te veel om op te noem! Daar is niks so verfrissend soos ‘n lekker vars vrugteslaai nie! Indien jy van roomys hou wag daar ‘n verrassing op jou! Probeer gerus die waatlemoen of papaja gegeurde roomys in ‘n horingtjie of op sy eie.

As jy opsoek is na ‘n spesiale nagereg, probeer gerus ‘n Dom Pedro. Roomys gemeng met ‘n druppel melk en whisky of likeur van jou keuse. Amarula likeur word gemaak van ‘n sterk marula vrug terwyl van der Hum gemaak word van naartjies.

Laatmiddag kan jy lekker koeksisters, gedraaide deeg, diepgebraai en versoet met ‘n lekker sous geniet. Nog een van my persoonlike gunstelinge is ystervarkies. ‘n Sponskoek in blokkies gesny, gedoop in ‘n sjokoladesous en gerol in klapper. Klink dit nie heerlik nie?

Indien jy iets minder soet verkies, probeer gerus melktert. Op sy heerlikste as dit nog so effens warm is. Souttert is net die ding vir die wat van soutigheid hou, gemaak van weense worsies, kaas, uie, kruie en eiers.

Vir aandete kan jy vetkoek op een van 3 maniere geniet. Week dit in jou tee, smeer met botter, stroop en kaas of vul dit met ‘n lekker kerrievulsel. Maak nie saak watter een jy kies nie, jy sal nie terleurgesteld wees nie. Plaatkoekies met marmite of stroop en pannekoek met kaneelsuiker is ‘n goeie alternatief as jy eerder ietsie kleins wil geniet.

Gedurende die dag sal jy nooit dors gaan nie. As jy opsoek is na iets warms, probeer gerus die sterk koffies, tee, rooibostee, warm sjokolade en my gunsteling, milo, gemaak met warm of koue melk. As jy meer ‘n koue drinker is, kies gerus uit die groot verskeidenheid ystees en vrugtesappe. Koejawel, lemoensap, grinadella, vrugtekelkie, druiwe, perske, peer, appel, appelkoos en mango is slegs ‘n paar keuses vrugtesappe waaruit jy kan kies. Koejawel en mango is seker die mees geliefde.

Indien jy eerder opsoek is na ‘n lekker bottel wyn om jou maaltyd te vergesel, probeer gerus een van die honderde Kaapse wyne waaruit jy kan kies. Maak seker jy geniet die gasvryheid van die reënboognasie terwyl jy Suid-Afrika deurtoer. Jy sal nie terleurgesteld wees nie! Probeer gerus die versameling resepte vir jouself!

,

Leave a Reply

What is 6 + 15 ?
Please leave these two fields as-is:
IMPORTANT! To be able to proceed, you need to solve the following simple math (so we know that you are a human) :-)

Spam Protection by WP-SpamFree