If you would like to read this article in English, go to one of my article sites and look up travel, destinations.
Die Kango Grotte is 26 km noord van Oudtshoorn in die Klein Karoo, ‘n baie warm gedeelte van die land in die Westelike Kaap Provinsie. Hierdie grotte is ‘n ondergrondse wonderland en is een van die beeldskoonste natuurwonders in die wêreld, uitgekerf deur die natuur self oor baie jare. Hierdie is druipsteen formasies in ‘n verskeidenheid kleure, bestaande uit kalsium koolstof wat ontwikkel wanneer water van die stene afdrup en verdamp.
In 1780 het ‘n boer genaamd Van Zyl langs die ingang van die grotte verbygestap en besluit om homself in die onbekende duisternis neer te laat sak, met ‘n brandende flits as sy enigste lig. Sonder dat hy kon sien wat onder hom aangaan, het hy ‘n groot risiko geneem, maar wat hy ontdek het, is ‘n grot, asemrowend en onbeskryflik! Hy het homself omtrent 10 meter in die eerste kamer laat afsak wat omtrent 98 meter lank, 49 meter wyd en 15 meter hoog is. Stalagtiete (hangende kolomme) en stalagmiete (groei van die grond af opwaarts) skitter orals!
Die Kango grotte is as natuurlike monument verklaar in 1938 en een van die grotte is oopgemaak vir toeriste. Die eerste kamer in Kango Een is na Van Zyl, sy ontdekker vernoem. Hierdie kamer beskik oor ‘n verskeidenheid dripsteen formasies, insluitende Cleopatra se Naald (9 meter hoog en ten minste 150 000 jaar oud). Die dak is ‘n wonderlike donker grys, baie glad gegraveerde prente, beide uitstaande en hol.
In die tweede kamer in Kango Een kan jy ‘n voltooide kolom sien wat omtrent 0.5 meter in deursnee is en 125 meter van die grond af tot by die plafon in die middel van die kamer staan. Sommige areas van die grot is so laag dat jy gebukkend daardeur moet loop. Die roete vervolg via Jakob se leer, trappe wat na bo lei, oor ‘n kamer wat lei tot ‘n groep kleiner spelonke. Hier moet jy teen ‘n steil leer opklim wat lei tot ‘n klein gat waardeur jy op jou hande en knieë moet kruip net om deur te pas. Op die einde moet jy op jou maag deur die brieweboks (letterbox) seil, want die opening is baie laag.
Hierdie ondervinding is beslis nie vir mense met slegte harte nie! Maar dit is beslis ‘n wonderlike ondervinding waar jy jouself kan geniet en iets nuuts leer op dieselfde tyd. Jy sal ook fotos hê om te kan bewys dat jy die natuurlike hindernisbaan voltooi het!
In 1972 breek drie professionele grot gidse deur die tweede grot en noem dit Kango Twee. ‘n Asemrowende feëtjieland wat ‘n verdere 270 meter strek. In 1975 word nog ‘n verlenging van omtrent 1 600 meter ontdek en word Kango Drie genoem. Beide Kango Twee en Drie is nie oop vir die publiek nie, sodat die pure kristal skoonheid beskerm kan word. Die ongelooflike kleure is nog net soos dit was toe dit ontdek is.
Een van die nadelige gevolge van Kango Een wat ontwikkel en oopgestel is vir toeriste, is dat die warm lug wat oor die eeu deur toeriste in-en uitgeasem is, die oorspronklike briljantheid van die kamer verdof het. Die temperature in die grotte is ‘n warm en bedompige 18°C.
Jy kan ‘n dokumentêre program oor Kango Twee en Drie kyk wanneer jy die grotte besoek en die wonderlike kleure daarbinne ervaar. Niemand word egter toegelaat om hierdie twee grotte te besoek nie.




Leave a Reply