Hierdie lieflike resep is meer as 350 jaar oud! ‘n Heerlike gunsteling van die Kaap waar die eerste brandewyn van Kaapse druiwe gedistilleer is in 1672! Ons het ‘n lang pad gestap sedertdien, maar die Kaapse Brandewynpoeding is nog steeds a ou gunsteling! (The English version can be found under recipes
Bestandele
250 g ontpitte dadels in die helfte gesny
1 teelepel koeksoda
1 koppie kookwater
1/2 koppie botter/margarine
1/2 koppie suiker
2 eiers, geklits
2 koppies meel
1 teelepel bakpoeier
1/2 teelepel sout
1 koppie fyn okkerneute
Metode
1.Sny die dadels en week die helfte hiervan in die kookwater en koeksoda. Roer en laat staan of af te koel.
2. Room die botter en suiker saam en voeg die geklitste eiers by. Meng baie goed.
3. Sif die meel, bakpoeier en sout saam.
4. Voeg die res van die dadels en die okkerneute hierby, en daarna ook die dadelmengsel met die water. Meng goed.
5. Skep die beslag in ‘n vuurvaste bakskottel en bak in ‘n voor-verhitte oond van 180 grade celcius vir 30 – 40 minute.
6. Verwyder uit die oond en gooi die warm sous oor die warm poeding.
Stroop
1 koppie suiker
1 eetlepel botter
1/2 koppie water
1 teelepel vanilla geursel
1/2 koppie brandewyn
1. Koop die suiker, botter en water saam vir omtrent 5 minute.
2. Verwyder van die stoof en voeg die vanilla en brandewyn hierby. Meng goed.
3. Giet die sous warm oor die poeding en bedien met styfgeklopte room of roomys!
Niks smaak lekkerder op ‘n koue aand nie. Geniet die resep en kom besoek Afrikaanse resepte gerus weer. Ek sal nuwe resepte elke maand byvoeg, en indien jy enige versoeke het, stuur ‘n boodskap en ek sal kyk wat ek kan doen. Lekker dag verder vir julle!




December 24th, 2008 at 8:24 am
My man wil so graag die outydse jelliepoeding hê, tuis het ons dit nooit gemaak nie, ek het al ietas probeer saamflans volgens sy beskrywing, maar hy’s van mening dit moet anders wees, maar kan ook nie verduidelik hoe nie.
Kan jy dalk help?
du Toits
December 24th, 2008 at 2:37 pm
Hi daar!
Interessante versoek. Het net gewonder watter soort poeding dit is. Is dit ‘n koue poeding, gebak soos ‘n koek, dalk soos ‘n koekstruif met jellie, koek en vla?
Ek het bietjie probeer navors oor die resep, maar daar is soveel verskillende soorte nageregte waar jellie betrokke is. Ek kan nie ‘n nagereg sien met die naam “jelliepoeding” nie.
Laat weet ‘n effense beskywing, dalk weet ek wat dit is as ek ‘n beskywing kry.
Lekker dag!
December 24th, 2008 at 4:19 pm
Hi
Ek het nou net met my ma gepraat. Sy het vir my die volgende resep gegee vir ‘n jelliepoeding. As dit nie is wat u man in gedagte het nie, laat asb weet, dan soek ek verder
Bestandele:
1 blikkie ideal melk
2 koppies strooisuiker
1 pakkie pynappel jellie
1 koppie kookwater
1 blikkie “crushed” pynappel. (Maak seker om dit deur ‘n sif te sit sodat al die stroop verwyder kan word.)
Metode:
1. Los die jellie op in die koppie kookwater en laat afkoel (moet dit nie laat stol nie).
2. Klits die ideal melk tot styf.
3. Meng al die bestandele saam en laat stol in die yskas vir ‘n paar uur. Oornag sal dalk beter wees, want dit sal genoeg tyd gee vir die jellie om ordentlik te stol.
2. Bedien met vla of roomys.
Laat weet asb of dit wel die regte resep is.